
Best in Class
Holisticly predominate extensible testing procedures for reliable supply chains. Dynamically innovate resource-leveling customer service for state of the art customer service.
Classify ItDie Boere Republieke van die Transvaal en Oranje-Vrystaat het ontstaan as gevolg van die Groot Trek waartydens groot getalle Boere gesinne op 'n beplande wyse die Kaapkolonie verlaat het om die Britse heerskappy af te skud en hulself te regeer. Tydens die Groot Trek het verskeie Boere regerings die lig gesien waaruit die latere Zuid-Afrikaansche Republiek en Oranje-Vrystaat ontstaan het.
Eerste Voortrekker regerings
Reeds aan die begin van die Groot Trek het die trekleiers besef dat hulle 'n nuwe beskawing stig en dat wet en orde gehandhaaf moes word. Vir hierdie rede is daar reeds op 2 Desember 1836, die eerste Trekker regering gestig by Blesberg (naby die huidige Thaba Nchu). Die regering het bestaan uit 'n Raad van sewe persone waarvan Gerrit Maritz die Landdros was en Hendrik Potgieter die Laer-kommandant. Potgieter het egter gemeen dat hy meer moes toekom aangesien hy eerste in die gebied was.
Teen April 1837 het die getal Trekkers drasties toegeneem. Met die aankoms van Piet Retief is 'n groot volksvergadering naby die huidige Winburg gehou.
Hierdie vergadering het 'n nuwe regering geskep met Piet Retief as Goewerneur en Gerrit Maritz as Landdros. Potgieter was oor die hoof gesien. Hieroor was hy ongelukkig. Dit het uitgeloop
op 'n broedertwis tussen hom aan die een kant, en Retief met Maritz aan die ander kant.
As gevolg van hierdie broedertwis en ook aangesien Retief en Maritz van vroeg af reeds Natal as bestemming ge-oogmerk het, is Potgieter en sy volgelinge in die gebied van die Transvaal en Vrystaat gelaat.
Die res van die Trek is onder leiding van Retief en Maritz, Natal toe.
Die Republiek Natalia
Die Republiek van Natalia is gestig deur die Natalse Trekker na 'n tydperk van vele ontberinge en nadat die mag van die Zoeloes deur Andries Pretorius gebreek is. Piet Retief is in die tussentyd deur Dingaan vermoor en Gert Maritz is oorlede as gevolg van siekte.
Die nuwe Republiek se hoofstad was Pietermaritzburg gewees en die Volksraad het bestaan uit 24 lede wat vir 12 maande verkies was. 'n Voorsitter was verkies met elke
vergadering. Die Uitvoerende gesag was uitgevoer deur die Voorsitter in samewerking met die bekwaamste lede. Andries Pretorius het die pos van Kommandant-generaal beklee.
'n Deputasie onder leiding van Andries Pretorius is na Potchefstroom om met Potgieter se Raad te onderhandel vir vereniging. Hierdie onderhandelings was suksesvol en op 16 Oktober 1840
is 'n verenigingsoorkoms in Potchefstroom geteken. Volgens die ooreenkoms sou Pretorius en Potgieter elkeen "Hoofbestierder" van hulle eie gebiede
(onderskeidelik gestel as die distrikte Natal en Potchefstroom) wees. Dit was
egter bepaal dat beide ondergeskik was aan 'n Volksraad. Hierdie beginsel het Potgieter getrou aan gehoor gegee soos gesien kan word uit sy gewoonte om waar ookal hy hom bevind het, hy
'n Volksraad opgerig het.
Die filantrope van die tyd het geglo dat die Trekkers niks goed vir die Swart stemme beteken het nie. Omgepraat deur die filantrope het die Koloniale Sekretaris van Engeland, Lord John Russel,
die Kaapse Goewerneur toestemming gegee om Natal te annekseer namens Engeland. Nadat die Natalse regering die Swart stam van die Bakas aangeval om gesteelde vee terug te kry,
het Goewerneur George Napier 'n mag onder Kolonel Harry Smith na Natal gestuur wat uitgeloop het op die Slag van Congella (23 Mei 1842 - 26 Junie 1842) waartydens die Natallers mag
verslaan is.
Die gevolg was dat die Volksraad van Natalia op 15 Julie 1842 hulself onderwerp het aan die Britse gesag. Volgens die voorwaardes van onderwerping sou die huidige regeringstelsel behou word totdat
die Britse regering besluit het wat om verder te doen. Op 12 Mei 1843 het Goewerneur Napier deur middel van 'n proklamasie Natal tot 'n Britse kolonie verklaar.
Die Volksraad wat die proklamasie op 8 Augustus 1843 aanvaar het, het egter steeds met
beperkte magte bly voortbestaan.
Op 9 April 1844 het die Potchefstroom en Winburg republieke formeel hul selfstandigheid verklaar en hul onderhorigheid aan die Natalse Volksraad opgeskort.
In Oktober 1845 het die Volksraad van Natal ophou bestaan nadat die republiek in September 1845 formeel tot 'n afsonderlike distrik van die Kaapkolonie geproklameer is. Teen hierdie tyd het meeste van die Boeregesinne reeds
Natal verlaat.
Op 21 Augustus 1845 het Goewerneur Maitland volgens proklomasie dit duidelik gestel dat die Trekkers Noord van die Oranje- en Vaalrivier steeds as Britse onderdane beskou was. Die Britse
regering het dus nie die onafhanklikheid van die Trekkers buite Natal erken nie.
Die Groot Trek het aanvanklik drie Trekkerrepublieke tot gevolg gehad soos in aangetoon in Kaart 2. Die geskiedenis van die Republiek van Natalia is in die vorige paragrawe beskryf. Uit die Republieke van Winburg en Potchefstroom het die Oranje-Vrystaat en Transvaal ontstaan.
Oranje-Vrystaat
Die Oranje-Vrystaat het ontstaan in die gebied tussen die Oranjerivier en die Vaalrivier, en het bestaan uit die Republiek Winburg in die Noordooste en verspreide
Trekkergroepe in die Suidweste.
Die Republiek Winburg was geleë tussen die Vetrivier en Vaalrivier wat deur Potgieter van Makwana vir beeste en beskerming geruil was. Hierdie republiek was vir alle praktiese
doeleindes regeer deur Potgieter en sy krygsraad. Die Trekkers van die Vrystaat en Transvaal was, alhoewel Potgieter sy gesag behou het, ondergeskik aan die Natalse
Volksraad. Na die Britse anneksasie van Natal, het dit verval op 9 April 1844 en was hulle nie meer gebonde aan Natal nie.
In die gebied van die Transvaal en Vrystaat was twee politieke groepe gewees. Die een groep onder Oberholzer het Britse heerskappy voorgestaan, terwyl die ander groep
onder Mocke die gebied tussen die Oranjerivier en die Vaalrivier as 'n onafhanklike republiek wou vestig. Wes van die Vrystaat het die Griekwa, Adam Kok gewoon. In 1843 het
hy volgens 'n verdrag met die Britse regering 'n onafhanklike kaptein geword wat waarvolgens hy gesag oor die Trekkers verkry het. Die Trekkers het egter
hierdie gesag nie as ernstig beskou nie en het selfs die spot daarmee gedryf. Kok het sy gesag probeer afdwing met die gevolg dat die Trekkers hom in 1844 by Toufontein aangeval
het. Hy het die hulp van die Britse soldate ingeroep. Die Trekkers het geen weerstand gebied, met die gevolg dat die Britse Majoor Warden in Bloemfontein aangestel is as
gesaghebber oor die Trekkers.
In die tussentyd is Pretorius tydens 'n groot byeenkoms op 20 Julie 1847 aan die Tugelarivier gekies om met die Kaapse goewerneur te gaan praat oor die toekoms van die Trekkers in Natal.
Pretorius het na Grahamstad gereis, maar Sir Henry Pottinger wou egter vir Pretorius nie spreek nie. Op pad terug het Pretorius nuus ontvang dat sy gesin deur swartes aangeval was, en vir
hulle lewens moes vlug. So kry hy dan sy vlugtende vrou en kinders aan die Tugelarivier. Hy tot die besef gekom dat dit nie moontlik sou wees om saam met die Engelse in Natal saam te werk nie. Derhalwe besluit hy om Natal te verlaat en in homself
anderkant die Vaalrivier in die Magaliesberg te gaan vestig. Terwyl hy besig was om oor die Drakensberg te trek, het Sir Harry Smith hom besoek en gevra hoe die Trekkers sou voel om onder Britse bewind te wees. Sonder om vir 'n antwoord te wag, Harry Smith op 3 Februarie 1848 as Kaapse Goewerneur die gebied tussen die Oranjerivier en die Vaalrivier as Britse grondgebied verklaar en die naam verander na die Oranjerivier-Soewereiniteit. Dit was veral die Trekkers van die Winburgse gebied wat nie onder Britse heerskappy wou staan nie,
en het daarom na die gebied anderkant die Vaalrivier getrek.
Pretorius het genoeg inligting ingewin onder die Trekkers om te bepaal dat hulle nie ten gunste van 'n lewe onder die Britse vlag wou wees nie. Met hierdie informasie het hy na
Winburg en Bloemfontein vertrek om te protesteer teen die anneksasie en te onderhandel met Smith. Die magistraat van Winburg (Biddulph) asook die gesaghebber (Warden) oor
die Oranjerivier gevlug. Smith wou nie onderhandel nie en het 'n losprys op Pretorius se kop geplaas. Met wapengeweld wou hy die Oranjerivier burgers onderwerp en het
met die Slag van Boomplaats (29 Augustus 1848) slaags geraak met die Trekkers. Alhoewel die Trekkers meer was in getal (Pretorius het regoor die land gereis om steun te kry - selfs so ver as
Ohrigstad), was hulle nie opgewasse teen die slaankrag van die Britse kanonne nie, met die gevolg dat die geveg verloor was en die Oranjerivier-Soewereiniteit weer onder Britse beheer was.
Die Britse bewindhebbers van die Oranjerivier-Soewereiniteit het binne 'n kort tydjie probleme met 'n ontevrede Mosjesj ondervind as gevolg van die bepalings van sy grense.
Dit het uitgeloop op 'n geveg by Viervoet waar Warden verslaan is deur Mosjesj. Weens onrus aan die Kaapkolonie se Oosgrens kon Warden nie hulp kry nie vanaf die Kaap nie. Die ontevrede burgers
van die Soewereiniteit het vir Pretorius gevra om in te gryp. Hy het vir Majoor Warden hiervan ingelig en ook aangedui dat hy 'n vreedsame oplossing gesoek het.
Hierdie omstandighede het Sir Harry Smith laat besluit om die onafhanklikheid van die Transvaalse Trekkers te erken om sodoende eerder die republikeinse voorstanders
aan te moedig om die Soewereiniteit te verlaat. Dit het uitgeloop op die Sandrivierkonvensie wat op 17 Januarie 1852 die onafhanklikheid van die Transvaalse staat erken het.
Die probleme het Mosjesj het vir die Britte al meer hoofbrekens gegee in die Soewereiniteit. By die Slag van Bereaberg het Mosjesj nogmaals die Engelse verslaan.
Dit het die deurslag gegee vir die Britse regering om die Soewereiniteit op te hef, wat gelei het tot die Bloemfonteinse Konvensie wat op 23 Februarie 1854 onafhanklikheid
aan die Vrystaatse Trekkers toegestaan het. Alhoewel onafhanklik, het hulle die probleme met Mosjesj geërf.
Die Republiek van die Oranje-Vrystaat het ophou bestaan na die Tweede Vryheidsoorlog.
Transvaal
Die jare voor amptelike onafhanklikheid
Nadat Silkaats se mag in 1837 deur die Trekkers vernietig is, het hy met sy mag die wyk geneem oor die Limpopo rivier na die Noorde. Die gevolg was dat daar volop oop grond was vir die
Trekkers om hulself op te vestig. Aan die einde van 1838 is die Trekkerdorp Potchefstroom gestig. Die eerste regering in die Transvaal het grootliks uit Potgieter en sy krygsraad gestaan. Waar ookal Potgieter hom bevind het, was die
setel van die regering gewees. Ook soos met die Vrystaat, was hierdie regering onafhanklik, maar ondergeskik aan die Natalse Volksraad.
Na die Britse anneksasie van Natal het hierdie reëling egter verval. Baie van die Natalse Trekkers het dan ook
na die Britse anneksasie na die Transvaal verhuis waar die grond volop was.
Met die aanvaarding van die eerste Transvaals Grondwet (ook bekend as die 33 Artikels), het die militêre mag invloed begin verloor en het 'n burgerlike regering meer na vore getreë.
Na die Slag van Boomplaats op 29 Augustus 1848 het Pretorius hom finaal in die Transvaal gevestig - Hy was reeds voor die slag op pad Transvaal toe. Potgieter het egter nie vir Pretorius vertrou nie en het hom as 'n indringer beskou.
Teen 1852 het die Transvaalse Volksraad uit vier hoofgroepe bestaan. Daar was Pretorius wie se volgelinge hoofsaaklik in Potcheftstroom en Rustenburg gebly het;
Potgieter se mense in Soutpansberg en Ohrigstad; W.F. Joubert met
'n gevolg in Lydenburg en dan ook J.A. Enslin wie steun hoofsaaklik vanaf die Wesgrens gekom het. Ten spyte van die vier groepe, was daar wel 'n mate
van samewerking gewees.
Op 17 Januarie 1852 verkry Pretorius onafhanklikheid vir die Transvaalse Trekkers deur middel van die Sandrivierkonvensie. Die Volksraad was egter ontevrede aangesien Pretorius sonder
hulle medewete onderhandel het. Met Pretorius se tergkeer was veral Potgieter en sy volgelinge ontevrede. Op 16 Maart 1852 kom beide groepe teenoor mekaar te staan by Rustenburg, waar
Pretorius en Potgieter in 'n tent ontmoet. Na die ontmoeting kom hulle saam uit die tent met 'n oop Bybel. Die wrywing tussen die twee leiers was hiermee beëindig. Op 16 Desember 1852 is Potgieter
oorlede en op 23 Julie 1853 is Pretorius oorlede. Hiermee het die tyd vir 'n nuwe geslag leiers begin.
Die eerste Zuid-Afrikaansche Republiek
Na die afsterwe van Andries Pretorius het sy seun M.W. Pretorius hom as leier van die Potchefstroomse Trekkers opgevolg. Gedagtig aan sy vader se hoop om eendag die Transvaalse
en Vrystaatse Trekkers te verenig onder een vlag, het hy die naam Zuid-Afrikaansche Republiek vir die Transvaalse staat gekies. Verder ook is Hendrik Potgieter is deur sy seun Piet Potgieter opgevolg
as Kommandant-generaal van die Noordelike Trekkers.
Gedurende 1852 het die Kaapse kerk twee predikante na die Transvaal gestuur. Teen daardie tyd was egter reeds die Hervormde Kerk asook die Gereformeerde Kerk gestig gewees. Die verdeeldheid
in die Transvaal was dus op staatkundige, sowel as kerklike gebied gewees. Ten spyte van hierdie verdeeldheid, was daar wel 'n eenheidsdrang onder die Transvaalse Trekkers gewees.
Op 6 November 1854 sterf Piet Potgieter tydens 'n gesamentlike Transvaalse strafekspedisie teen Makapan. Hy word opgevolg as Kommandant-generaal deur Stephanus Schoeman. As gevolg van Pretorius
se sterker persoonlikheid het die Noordelike Trekkers (onder Schoeman) se invloed op politieke gebied verswak.
Pretorius wou deur middel van 'n grondwet wat vir almal aanneemlik sou wees die Transvaalse Trekkers versoen. In 1856 is die grondwet op Potchefstroom bekragtig tydens 'n
groot byeenkoms van burgers. Pretorius is benoem as president en Schoeman as Kommandant-generaal. Die Soutpansbergers onder Schoeman asook die Lydenburgers onder Joubert het egter
die grondwet verwerp en afgestig van die Zuid-Afrikaansche Republiek.
Pretorius se drang na eenheid veroorsaak dat hy hierna onverstandig optree deur in 1857 die Vrystaters onder wapengeweld wou dwing om onder hulle onder die Transvaalse vlag te skaar. Kommandant-generaal
Senekal van die Vrystaat het by die Renosterrivier vir Pretorius se mag gewag. Hierdie gebeurtenis het later as die Renosterrivierinval bekend gestaan en het bykans tot 'n burgeroorlog
gelei as dit nie vir optrede van Kommandant Paul Kruger was nie. Op die versoeningsvergadering wat hieruit gevolg het, het President Boshoff van die die Vrystaat belowe om Schoeman en Joubert te oorreed om
met Pretorius te versoen die grondwet aan te neem. So het die Soutpansbergers in 1858 die grondwet aangeneem en die Lydenburgers in 1859.
Op 5 April 1860 het die verenigde Zuid-Afrikaansche Volksraad in Pretoria vergader nadat die Lydenburgse volksraad die vorige dag formeel tot vereniging oorgegaan het. 5 April 1860 kan dus beskou word as die geboortedag van 'n verenigde
Zuid-Afrikaansche Republiek.
Burgeroorlog
M.W. Pretorius wou steeds sy ideaal verwesenlik om die Transvaal en Vrystaat te verenig. In 1859 het hy 7 maande verlof van die Z.A.R. gekry en na die Vrystaat gegaan waar President
J.N. Boshof afgetree het. Die Vrystaters het vir Pretorius as President gekies wat hom toe tegerlykertyd President van die Z.A.R. sowel as Orange-Vrystaat maak. Hierdeur het hy gehoop
om die twee republieke te verenig. Die Transvaalse Volksraad was ontevrede hieroor. Gevolglik bedank hy toe die uit die pos as President van die Z.A.R.
Die volgende paar jaar na Pretorius se bedanking was onrustige jare van gewapende optredes tussen die burgers van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Die volgorde van gebeure word kortliks soos volg gelys:
Weens militêre probleme op die Z.A.R. se Oos- en Wesgrense, het die burgers tot die besef gekom dat hulle die burgeroorlog en wrywinge moes staak en eerder eendragtig hulle gemeenskaplike
vyande moes beveg.
Britse anneksasie
In 1867 word die eerste diamant in Suid-Afrika ontdek ongeveer waar die huidige dorp Hopetown is. Drie jaar later word ook diamante by Du Toitspan ontdek. Die Suid-Westelike
hoek van die Vrystaat Republiek verander gou in 'n bedrywige gebied van delwerykampe. Die Engelse van die Kaapkolonie het die delwerye in die oog gehad, en het derhalwe die wiel
aan die rol gesit om die beheer oor die delwery gebiede te bekom. Teen 1870 is diamante ook die Transvaal Republiek ontdek. Die gevolg was dat daar redelik gou struwelinge
onstaan het tussen die twee Boere republieke en die Kaapkolonie ontstaan het oor die eienaarskap van die delwerye.
Om die saak te besleg is besluit om die saak deur arbitrasie onder leiding van goewerneur Keate van die Natal kolonie te besleg. President Brand van die Vrystaat het vasgeskop teen
die arbitrasie, maar President Pretorius van die Transvaal het toegestem. Ongelukkig het hy die Transvaalse saak swwak gestel en het Keate uitspraak teen die Transvaalse republiek gegee.
Die Transvaalse Volksraad het geweier om die uitspraak te aanvaar. Daar was nou soveel ontevredenheid met Pretorius se hantering van die kwessie in die Transvaalse Volksraad dat hy verplig gevoel het om te
bedank.
Die Transvalers het nou 'n geleerde President verlang en kies vir in 1872 vir Ds. Thomas Francois Burgers van Hanover in Kaapkolonie. Hy was vol ideale en het onder andere 'n verenigde Suid-Afrika onder
'n Afrikaans vlag as ideaal nagestreef. Teenoor hom was die koloniale Engelse wat weer 'n verenigde, maar Britse Suid-Afrika as oogmerk gehad het. Burgers 'n moeilike taak voor hom gehad.
Die Keate uitspraak moes beveg word, die staatskoffers was leeg en die toestand van onderwys was in 'n haglike
toestand gewees. Boonop het die Engelse propoganda hard gewerk om hom in onguns by die Transvalers te bring om sodoende die republiek staatkundig te verswak.
Met sukses is die Keate uitspraak teengestaan. In 'n poging om die finansieële toestand te red, het Burgers geld geleen by die Cape Commercial Bank en dit vervang met
banknote wat in die buiteland aanvaarbaar was. Sodoende kon ook buitelandse skuld verkry word. Verder het die eerste koerant van die Republiek, naamlik die Volksstem op 8 Augustus 1873
die lig gesien. Op onderwysgebied het is die eerste Onderwyswet ingestel. Alhoewel goed nagevors en opgestel was dit nie gewild onder die burgers wat die wet as te liberaal
beskou het. Hierdie teenkanting teen die wet is verder aangewakker deur Britse propoganda. In 'n poging om die republiek se onafhanklikheid te help verseker is ook besluit om
'n spoorlyn na Delagoabaai te bou. Hiervoor is Burgers na Europa om geld te leen, maar weens Engelse inmenging kon hy nie die volle bedrag wat benodig was leen nie. In die tussentyd het die
Engelse die stamhoof Sekoekoeni aangehits om oorlog teen die Transvaal te voer. Hy is selfs van gewere en ammunisie voorsien. Die gevolg was dat Burgers gedwing was om op 16 Mei
1876 oorlog te verklaar teen Sekoekoeni. Die Britse Sekretaris van kolonies, Lord Carnarvon,
het die oorlog gebruik as voer om die Transvaalse regering as aggressors voor te stel en so die anneksasie van die Boere republiek te regverdig.
Die taak om die Zuid-Afrikaansche Republiek (Z.A.R.) te annekseer het Carnarvon opgedra aan Sir Theophilus Shepstone. Die opdrag het die totstandskoming van 'n federasie van Suid Afrikaanse
state ingesluit en het genoeg mag aan hom gegee om namens Brittanje die Z.A.R. te annekseer. Op 9 April 1877 stel hy dan ook President Burgers in kennis dat hy die Z.A.R. gaan annekseer, waarteen
Burgers protesteer op 11 April 1877. Met slegs 25 man van die Natal Mounted Police annekseer Shepstone dan die Z.A.R. op 12 April 1877 namens Groot-Brittanje.
Eerste Vryheidsoorlog
F. Wolmarans het met ongeveer 400 man in Pretoria opgedaag om die anneksasie teen te staan. Die Volksraad oortuig hom egter om nie op te tree nie. Oor waarom die regering so
maklik toegegee het, bestaan verskeie menings. Moontlik was die gevoel dat die anneksasie nie lank sou hou nie. Aan die ander kant was die Transvalers uitgeput na die oorlog teen
Sekoekoeni, die Transvaal was bankkrot en op politieke terrein was daar wanorde.
As deel van President Burgers se protes is aangedui dat afvaardigings na Brittanje gestuur sou word
om die anneksasie te beveg. Twee afvaardigings na Londen het egter misluk. Na verskeie groot volksvergaderings versamel tussen 4- en 5-duisend Transvalers by Paardekraal op 8 Desember 1880 en
op 13 Desember word die Z.A.R. amptelik deur die Transvalers herstel. Die nuwe hoofstad sou Heidelberg wees en die bestuur in die hande van die Driemanskap naamlik Paul Kruger, M.W. Pretorius
en P.J Joubert. Na 'n redelike kort oorlog teen Groot-Brittanje (waarvan die Slag van Majuba die vernaamste was) wat eindig met die Konvensie van Pretoria op 3 Augustus 1881, verkry die Tranvaal weer selfbestuur onder streng voorwaardes
en onderwerpe aan die susereiniteit van Brittanje.
Om die susereiniteit af te skut en beter voorwaardes te verkry is 'n derde afvaardiging na Londen gestuur. Die gevolg was die Konvensie van Londen wat op 8 Augustus 1884 deur die Transvaalse Volksraad
bekragtig is. Die nuwe konvensie het meeste van die regulasies van die Konvensie van Pretoria opgehef. Behalwe vir beperkings i.v.m. die sluit van traktate was die Transvaal weer vry
om oor homself te regeer.
Tweede Vryheidsoorlog
Teen die einde van die 19de eeu het daar twee politiese denkrigtings in die Suide van Afrika bestaan. Daar was die Britse imperialiste teenoor die Afrikaner nasionaliste. Die Britse
Imperialiste was in beheer van die Natal- en Kaapkolonies terwyl die Afrikaner nasionaliste gesetel was in die Transvaal en Vrystaat Boere republieke. Aan Britse kant was daar 'n strewe
om die hele Suidelike Afrika onder een Britse vlag te verenig.
Met die ontdekking van goud in 1886 in die Transvaal, het die imperialiste hulle strewe verskerp. Verskeie buitelandse fortuinsoekers het die Witwatersrand binnegestroom op soek na
rykdom. Die instroming van die getal buitelanders (wat meestal Britse onderdane was) het die Z.A.R. regering genoop om in 1890 die Burgerskapwet te verander sodat burgerskap, en daarmee saam stemreg, eers na 'n verblyf van 14 jaar verkry
kon word. Die buitelanders het, alhoewel hulle nie regtig Britse burgerskap wou opgee nie, aangedring op meer seggenskap in die bestuur van die Zuid-Afrikaansche Republiek.
In 1895 beplan die Eerste Minister van die Kaapkolonie, Cecil John Rhodes, om 'n opstand in Johannesburg te begin en so die regering omver te werp.
Die opstand sou ondersteun word deur
'n groep soldate van Rhodes se persoonlike maatskappy genaamd die Chartered Company. Die mag sou onder bevel van Dr. L.S. Jameson wees en sou gevolglik bekendstaan
as die Jameson Raid. Die inval het begin op Sondagnag, 29 Desember vanaf Pitsani aan die grens van die Z.A.R. Die inval en gevolglik ook die opstand het klaaglik misluk deurdat die Boere kommando's
die invalsmag verslaan het op 2 Januarie 1896 naby Krugersdorp. Die gevolg was dat Rhodes as Eerste Minister moes bedank. Nog meer, die spanning tussen die
imperialiste en die Boere republieke het
toegeneem. Verder ook het die Z.A.R. sy gereedheid vir toekomstige invalle verskerp.
Gedurende Mei 1897 kom Sir Alfred Milner in Suid-Afrika aan as Kaapse goewerneur en Britse hoë kommissaris. Die Britse Minister van Kolonies, Joseph Chamberlain het gehoop dat hy
deur Milner die hele Suider Afrika onder Britse gesag kon kry.
Die politieke toestand tussen die Transvaal regering en buitelanders (of Uitlanders soos hulle bekend gestaan het) het versleg. Op 18 Desember 1898 het 'n ene Tom Edgar in Johannesburg
beswyk aan wonde wat hy opgedoen nadat hy hom verset het tydens arrestasie wat gevolg het tydens 'n bakleiery. In Engeland is die gebeure opgeblaas, wat kanonvoer gegee het aan die Britse regering om die oorlogspoging aan
te vuur.
Milner het dit as 'n geleentheid beskou vir die
Britse regering om in te meng.
President Steyn van die Vrystaat het gevrees dat oorlog op pad was, en nooi vir Kruger en Milner na die Bloemfonteinse konferensie van 31 Mei 1899 om die saak te besleg.
Die konferensie het egter misluk. Kruger was bereid om die aantal verblyfjare voor stemreg te verlaag na 7 jaar, maar Milner het aangedring op 5.
Na die mislukte konferensie stuur Brittanje duisend soldate na die Kaap- en Natalkolonie. Hierdie soldate was geplaas in dorpe digby die grense van die twee Boere-republieke. Aan die einde
van 1899 op 28 September mobiliseer die Transvaal en stuur gewapende burgers na die grense. Die Oranje-Vrystaat volg die voorbeeld op 2 Oktober 1899. In oorlegpleging met President Steyn van die Vrystaat, stuur die Z.A.R. 'n ultimatum op 9 Oktober
na die Britse regering waarin hulle versoek word om hulle soldate binne 48 uur te onttrek. Die Britse regering het nie gehoor gegee aan die versoek nie, en so breek die Tweede Vryheidsoorlog
uit op 11 Oktober 1899 tussen die Boere (as sustersrepubliek het die Vrystaat regering ook oorlog verklaar) en die Engelse.
Na 'n oorlog van bykans 3 jaar is die Boere-republieke van die Transvaal en die Vrystaat verslaan en sou hulle ophou bestaan.
Die volksverteenwordigers het op 31 Mei 1902 die volgende
aangegee as redes wat hulle beweeg om die oorlog nie voort te sit nie:
Op 17 Julie 1902 beskryf Jan F.E. Celliers in sy Oorlogsdagboek die einde van die Republieke soos volg:
Hoe anders moeten deze laatste woorden zijn dan wij dachten op dien
morgen van 5 Juni na ontvangst van het vrede-bericht! Dien zelfden namiddag
nog spanden wij in om te vertrekken naar Doornkom. Voor ons vertrek en op de
reis werden talrijke vreugdeschoten door onze burgers gelost - zalige onwetendheid!
's Avonds om de vuren liep er een praatje dat wij naar Doornkom gingen
om de wapens neer te leggen. Iedereen lachte om het grapje dat zoo werd
verteld door één van de veldcornetten aan het rollen was gezet. Toen wij den
volgende morgen, 6 Juni, Doornkom naderden zagen wij een zwarte menigte
daar vergaderd. Nog altijd waren wij vol blijde verwachting. Ik merkte evenwel
op dat ik nergens onder die menigte onze vlag zag waaien. Ook anderen beschouwden dit als geen goed tecken en dat was het eerste schaduwtje dat onze
blijdschap een weinig benevelde. Maar ik dacht: ach, zoo als ik onze menschen ken,
zij hebben er zeker niet aan gedacht; of wel, za hebben geen vlag bij de hand.
Geen 100 treden van de uitspanning kwam ons weer iemand tegen met dat
praatje over ontwapening. Niemand op onze wagen die er nog eenig geloof aan
hechtte. Geen één of hij was nog gewillig het wapen te behouden en te gebruiken.
Geen één die niet zide: Zoo een vrede zal een man als Genl. de la Reij nooit
teekenen. Maar wat is dat, daar komt er nog een aan, zonder wapen, en hij zegt
rond en duidelijk dat hij het afgelegd heeft. Het was als voelde ik een stoot voormijn borst.
Maar neen, het kan niet waar zijn. Ik verlaat den wagen en loop vooruit. Ik ontmoet meer en meer ongewapende burgers, met terneergeslagen blikken, met tranen in de oogen. Ik wil het niet gelooven:
waar is de Generaal? Ik
moet hem self spreken. Men beduidt mij naar zijn kar en ik zie hem daar zitten.
Het jaagt, het storm in mij: "Generaal, er wordt gezegd dat wij de wapens
moeten neerleggen: ik wil het niet geloven, generaal, tenzij ik het uit uw eigen
mond hoor." Een zwijgend hoofdknikken, een half gemompelde bevestiging, en
ik verstaan nu ontwijfelbaar de vreeslijke, groote waarheid.
Bronne:
Holisticly predominate extensible testing procedures for reliable supply chains. Dynamically innovate resource-leveling customer service for state of the art customer service.
Classify It