Die Suid-Afrikaanse konsentrasiekampe gedurende die Anglo-Boereoorlog









Die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog op 11 Oktober 1899 het die Britse regering aangeneem dat die Boererepublieke sou oorgee sodra die hoofstede, naamlik Bloemfontein en Pretoria, ingeneem was. Na die inname van Bloemfontein in Maart 1900 het die leiers van die republieke egter op 'n gesamentlike krygsraadvergadering dat die oorlog sou voortduur en dat daar van 'n guerrila taktiek gebruik gemaak sou word. Die guerrilla taktiek het behels dat klein mobiele eenhede die Britte sou aanval en dat 'n veg-en-vlug taktiek voortaa gevolg sou word.

As deel van die guerrilla taktiek het die Boere infrastruktuur soos spoor- en telegraaflyne beskadig om die Britse magte te ontwrig. Op 16 Junie 1900 vaardig lord Roberts 'n proklamasie uit waarvolgens plaashuise wat die naaste aan sulke optredes was, afgebrand sou word. Later brei Roberts hierdie bevel uit en sou alle eiendom binne 'n radius van 16 kilometer afgebrand word. Aan die einde van November 1900, neem lord Kitchener oor as bevelvoerder van die Britse magte.

Lord Kitchener was onder groot druk om die oorlog tot 'n einde te bring. Hy het besef dat die plaashuise 'n bron van voorraad en aanmoediging vir die Boere was. Derhalwe besluit hy om die proklamasies van Roberts uit te brei en strenger uit te voer, vlugtelingkampe wat vir hensoppers bedoel was te omskep in konsentrasiekampe wat die vrouens en kinders van die afgebrande plase moes huisves en om blokhuise op te stel wat die beweging van die Boerekommando's aan bande moes lê. Hierdie beleid het tot die sogenaamde Verskroeide aarde beleid tot gevolg het en sou daartoe lei dat 30 000 plaashuise afgebrand is, oeste en plaasdiere vernietig is en dat talle dorpe soos Lindley en Ermelo totaal verwoes is.

Wat meer afgeëts was op die karakter en persoon van die Boererepublieke se bevolking was as die plase en dorpe wat vernietig was, was egter die getal vrouens, kinders en bejaardes wat in die konsentrasiekampe oorlede is. Oor die presiese getal sterfte is daar nog nie duidelikheid nie. Reynolds reken die getal op ten minste 34051 (dit is slegs sterftes waarvoor daar rekords bestaan) en Hall op 27927. Reynolds se getal sterftes sluit in diegene wat op pad na die kampe ook oorlede is asook sterftes van Swart persone. Die getalle van Swart sterftes is egter onvolledig as gevolg van 'n tekort aan bronne wat toegeskryf kan word aan onvoldoende rekordhouding tydens die oorlog. Die amptelike getal sterftes volgens die Britse Blouboeke is 26251, terwyl die getal sterftes soos aangedui by die Vrouemonument by Bloemfontein, 26795 is.

Die omstandighede waarin kampinwoners in die kampe moes leef het van kamp tot kamp verskil. So ook die voedsel, huisvesting en kleding. Party kampe het dit beter gehad as ander. 'n Omstrede onderwerp is die bewering dat daar vreemde voorwerpe soos vishoeke en vitriool in die voedsel was. In die Huyser versameling van verklarings deur vorige inwoners van die Mafeking kamp, bevestig 16% van die verklarings dat daar vreemde voorwerpe soos vishoeke in die geblikte voedsel was. Die voorkoms van vitriool in die voedsel is deur 9% bevestig. Die ander verklarings maak nie melding van vishoeke of vitriool nie. Daar moet egter in gedagte gehou word dat die skrywers van die verklarings nie spesifieke aanwysings gekry het oor watter onderwerpe van die kamplewe aangeraak moet word nie. Dit is dus moontlik dat die skrywers nie gedink het om daaroor te skryf nie. Reynolds wys in haar navorsing daarop dat die Britse troepe dieselfde blikkieskos gekry en dat die vervaardigers van die voedsel nalatig was. Verder wys Reynolds ook daarop dat blou kleursel tydens die vervaardigingsproses in die suiker gebruik was om die kleur te verander van geel na wit. Dit is dieselfde suiker wat deur die Britse soldate en kampinwoners gebruik was en wat daarop dui dat dit nie 'n moedswillige poging van die Britte om die inwoners uit te wis nie.

Dit blyk uit verskeie bronne dat die kampinwoners 'n vrees vir die kamphospitale gehad het. Die kampowerhede het maar min simpatie gehad en het baie van die sterftes toegeskryf aan die mense wat nie hospitaal toe wou gaan nie. Uit verskeie verklarings wil dit voorkom of die vrouens geglo het dat die hospitaal net die dood beteken het. Mevrou Grobler wat in die Mafeking kamp was, stel dit soos volg "As iemand siek wort dan moet hy hospitaal toe. en is hy eers daar dan kom hy nooit weer trug min het maar trug gekom. Ons was later so seker daar van. dat ons soo 'n persoon maar klaar gegroet het". Dat hulle 'n vrees vir die hospitale gehad het is dus duidelik en ook verstaanbaar met die algemeen hoë getal sterftes in ag geneem.

Nog 'n omstrede onderwerp is die bestaan van Swart konsentrasiekampe. Alhoewel Reynolds, die Dameskomittee en Emily Hobhouse na hierdie kampe verwys is daar sommiges wat sonder 'n behoorlike argument, die bestaan van die kampe as onsin afmaak. Deeglike navorsing om te bepaal of hierdie kampe konsentrasiekampe in die ware sin van die woord was en of dit slegs werkerskampe was moet nog verder gevoer word. Verdere navorsing is ook nodig om te bepaal hoeveel is oorlede en waar is hulle dan begrawe.

Nagedagte

Wanneer daar na die geskiedenis van die konsentrasiekampe in Suid Afriak gekyk word, moet die leed van die Boere republieke se families nooit vergeet word nie. Daar kan nog vir baie jare nagevors word en debatteer word oor die getalle, redes vir sterftes en ander dergelike sake. Die lewensverliese wat bykans elke familie van die Boere republieke gely het, moet nooit vergeet word nie. As voorbeeld word twee families gebruik. Een uit die konsentrasiekamp van Mafeking en een uit die Irene konsentrasiekamp.

Van die familie van Jurie Hendrik Gouws sou net hyself en een dogter die oorlog oorleef het. In die Mafeking kamp is sy vrou, Helena Johanna Christina, sowel as drie van hulle vier kinders oorlede. Die enigste oorlewende kind het by familie in die kamp gebly totdat Jurie Hendrik as krygsgevangene vanaf St. Helena af teruggekeer het.

In Irene word as voorbeeld die lewe van Hester Hendrina Ras (gebore Vermeulen) gebruik. Haar seuntjie is 30 Mei 1902 oorlede nadat hy twee maande tevore in die kamp gebore is. Sy self is oorlede in die kamp nadat vrede gesluit is. Benewens haarself is ook haar vader, stiefmoeder en suster ook in die kamp oorlede. Benewens hierdie twee voorbeelde, is daar nog baie sulke voorbeelde wat opgespoor kan word.

Oud-President Steyn het dit by die Vrouemonument in 1913 gestel het dat die monument nie opgerig is as "..... 'n ewigdurende verwyt nie; maar dit is hier geplaas uit reine piëteit. Dit is 'n volkshulde aan die nagedagtenis van sy dierbares.". Vir ons as nageslag van die kampinwoners is die geskiedenis van die konsentrasiekampe 'n herinnering aan die ontberings en opofferings wat ter wille van ons gemaak is.









Die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein










Bronne:

1. Cd 893. 1902. Report on the Concentration camps in South Africa, by the Committee of Ladies.

2. Hall, Darrel. 1999. The Hall handbook of the Anglo Boer War.

3. Hobhhouse, E. 1902. The Brunt of the War and where it fell.

4. Huyser, H. W. Huyser Versameling van verklarings, Aanwins A951. Transvaalse Argiefbewaarplek.

5. Die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke. 2017. Die Anglo-Boereoorlog in 100 objekte.

6. Otto, J.C. 2015. Die konsentrasiekampe.

7. Reynolds, Celesté. 2013. Konsentrasiekampsterftes gedurende die Anglo-Boereoorlog. 1899-1902.