Jan van Riebeeck land in Tafelbaai (6 April 1652)
(Aankoms van Blankes in Suid Afrika)









Persone

Jan van Riebeeck




Maria van Riebeeck




Instelling van 6 April as Dankdag op 6 April 1654

(Ook bekend as Jan van Riebeeck se gelofte)

Heden voor de tweede mael jarich sijnde dat wij door Godes H. geleyde met de scheepen Drommedarus, Reyger ende Goede Hoope hier ter plaetse behouden sijn aengelandt omme dese fortresse ende colonie nae d' ordre onser Heeren Meesters op te maecken ende stabileren, ende gemerckt Godt de Heere alle die saecken tot den dach van heden met veele segeningen wel ende gewenscht heeft laeten succederen ende voltrecken, soo hebben beslooten, ende oock voor d' eerste reyse begonnen, desen dach, den 6en April wesende, tot Godes eere met dancksegginghen te vieren ende voor altijt tot een vastblijvenden danck- ende bededach in te stellen, ten eynde daerbij des Heeren weldaeden, aen ons bewesen, bij ons naecomelingen noyt vergeten, maer altijt tot Godes eere ter gedachtenisse in memorie gehouden mogen worden

Tafelbaai waar Jan van Riebeeck geland

Teen die einde van die 1640's het die direkteure van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) dit oorweeg om 'n halfwegpos by die Kaap de Goede Hoop te stig om hulle skepe van voorraad te voorsien. Skepe het teen hierdie tyd reeds op hul vaart na die Ooste by Tafelbaai en ook by Mauritius aangedoen vir verversings. Die behoefte aan 'n meer permanente halfweghuis om sodoende skeepvaart meer winsgewend te maak het gou duidelik geword. Tafelbaai was ge-oogmerk vir die doel.

Dit was veral die verslag van Leendert Janszen en Matthys/Machiel Proot wat aan boord die Nieuwe-Haerlem op 25 Maart 1647 by Tafelbaai gestrand het wat die direkteure (hulle het bekendgestaan as die Here XVII) op 22 Augustus 1650 laat besluit het op die Kaap. Hierdie verslag het die moontlikhede wat die Kaap as halfweghuis gebied het in besonder uitgelig. Aanvanklik was Proot die pos van bevel oor die ekspedisie aangebied, maar hy het dit van die hand gewys.

Die volgende keuse as Kommandeur na die Kaap, het op Johan Anthoniszoon (Jan) van Riebeeck geval. In 1648 was hy toevallig vlugtig in Tafelbaai vir agttien dae terwyl hy aan boord dieselfde skip was wat vir Janszen en Proot by Tafelbaai opgepik het. Die Here XVII het hom gevra om Proot se verslag te lees en kommentaar daarop te lewer. Die direkteure was tevrede met sy kommentaar en bied vervolgens vir hom die pos aan as bevelvoerder van die ekspedisie na die Kaaop. Sy opdrag was om 'n veilige vesting en landingsplek vir vlote te skep en 'n tuin aan te lê. Vir die aanlê van die tuin, het tuinier Hendrik Boom die ekspedisie vergesel. Van Riebeeck moes ook egter ook verseker dat die vesting verdedigbaar sou wees in geval van 'n aanval deur Europese magte.

Op 16 Desember 1651 gaan die ekspedisie aan boord die Drommedaris by die hawestad Texel in Nederland, en vaart uit op 24 Desember 1651. Die vloot het bestaan uit 5 skepe naamlik die Drommedaris, Reijger, Walvis, Oliphant en De Goede Hoop. Jan, sy vrou Maria, hulle 4 maande oue seuntjie (Lambertus) en twee kinders van sy moeder se suster (Lijsbeth en Bastiaantje van Osdorp) was aan boord die vlagskip Drommedaris. Van Riebeeck was nie van plan om hom aan die Kaap te vestig nie, en het die pos slegs beskou as 'n trappie na groter suksesse. Hy wou slegs aan die Kaap bly totdat hy goeie orde gebring het aan die nuwe verversingspos.

Op 5 April 1652 was Tafelberg in sig gewees, en op Saterdag-aand 6 April het die Drommedaris en Reijger (die ander skepe was nog ter see) in Tafelbaai voor anker gelê. Die volgende aand het van Riebeeck aan land gegaan om 'n geskikte plek aan te wys waar die fort gebou moes word. Die fort is dan ook 3 Augustus 1652 voltooi en sou bekendstaan as die Fort de Goede Hoop. Die Fort was van klei gebou in die vorm van vier punte. Teen 1661 het dit begin verbrokkel en was voorts ook te klein om die soldate te huisves. Aan die einde van 1665 (nadat van Riebeeck vertrek het) is begin met die bou van die Kasteel om die Fort te vervang.

Aan die beginjare het dit nie altyd voor die wind gegaan nie. Daar was baie siekes, 'n tekort aan kundigheid om die aanvangswerk te voltooi en boonop moes die vesting die eerste paar jaar voedsel invoer of kommandeer vanaf verbygaande skepe.

Om te help voorsien in die voedseltekort moes 'n plan gemaak word om boere in die hande te kry. Om huisgesinne uit Nederland in te voer sou te duur wees. Van Riebeeck stel dus voor dat 'n paar huisgesinne wat in diens van die VOC was en aan die Kaap was, as vryburgers aangestel word. Op 21 Februarie 1657 word 9 amptenare van die VOC dan op hulle eie versoek uit die VOC se diens ontslaan. Hulle sou in die vervolg toegelaat word om buite die Kompanjie hulle eie bestaan te maak. Hierdie eerste vryburgers sou aanvanklik hulle toelê op boerderye om in die voedseltekort te voorsien. Hulle het hulself langs die Liesbeek rivier in twee groepe verdeel naamlik:

Harmenskolonie (Op die plaas Groenevelt):
Harmen Remajenne.
Jan Martensz de Wacht.
Jan van Passel.
Warnar Cornelisz.
Roelof Jansz.


Stevenskolonie (Op die plaas De Hollandsche Thuyn):
Steven Jansz Botma.
Hendrik Elbertsz.
Otto Jansz.
Jacob Cornelisz van Rosendael.

Later is nog vrybriewe uitgereik aan amptenare om ander beroepe soos ambagsmanne, herbergiers en vissers te beoefen. Van Riebeeck was hulle goedgesind en het in hulle 'n toekoms gesien. So het die Suidpunt van Afrika as 'n blanke kolonie ontstaan.

Op 7 Mei 1662, na 'n verblyf van 10 jaar, 1 maand en 1 dag het Kommandeur Jan van Riebeeck die Kaap de Goede Hoop verlaat en na Batavia vertrek waar hy oorlede is op 18 Januarie 1677.

Bronne:

  1. Bosman D.B., Thom H.B. Daghregister. Deel 1. 1651-1655. Jan van Riebeeck. 1952.
  2. De Wet C., Hattingh L., Visagie J. Die VOC aan die Kaap. Pretoria Boekhuis. 2017.
  3. Giliomee, H. Die Afrikaners. Tafelberg. 2004
  4. Picard, H.W.J. Masters of the Castle. Struik. 1972
  5. Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. Griffel. 2009
  6. Van der Walt A.J.H., Wiid J.A., Geyer M.A., Kruger D.W. Geskiedenis van Suid-Afrika. Nasou Beperk. Tweede uitgawe. Vyfde druk.

Foto's verkry vanaf https://www.rijksmuseum.nl .